top of page
Pink Flowers

Vrouebediening

Ons Vrouebediening is aktief en woeker gereeld.  Elke vrou in ons gemeente ontvang ‘n ope uitnodiging om deel te neem aan die jaarbeplanning en uitvoering daarvan. 

Wie Is Ons

Ons fokus is op dienslewering, hulp aan behoeftiges, bederf aan ons manne, vroue, seniors en skoolgaandes.  Dinge gebeur nie sommer net nie – ons sit skouer aan die wiel!

  • Die 80plussers word op ons weeklikse program uitgelig met hul verjaardag en hulle ontvang ook ‘n besoek en soetigheid as bederf. 

  • Seniors geniet jaarliks ‘n spesiale ete in die saal, waar ‘n bord heerlike kos gratis aan hulle voorsien word.

  • Vir die vroue is daar twee maal ‘n jaar ‘n Vrouekuier wat ten doel het om ons vroue te bedank vir samewerking, tyd, energie en als wat opgeoffer word om aan diens te wees in die gemeente en gemeenskap.  Bywoning is gratis en daar word natuurlik heerlik saam geëet, ontspan en ‘n programmetjie aangebied.

  • Jaarliks vind ‘n spoggerige Vrouetee plaas.  Ons kry ‘n welbekende persoon as gasspreker of sanger, dek tafels en sit heerlike eetgoed voor.  Daar word behoorlik gekuier en gesels – is feestelik en altyd ‘n hoogtepunt op ons kalender. 

  • Vir die manne bied ons jaarliks ‘n ontbyt aan.  ‘n Aktuele en interessante gasspreker kom gesels en so sê ons groot dankie aan die manne vir hul geesdrif, leiding en werk vir en in die gemeente. 

  • Met Pinkster-week sorg ons vir heerlike warm sop en vars broodjies as ete na die diens. 

  • Met Moeders- en Vadersdag word daar ook ‘n bederfie uitgedeel.

  • Twee gemeente-etes word voorberei en die tafels kraak behoorlik van heerlike kosse.

  • ‘n Craft Xpo word in ons saal aangebied en ons vroue is ook daar met hulp betrokke.

  • Ons bied drie Mini basaars per jaar aan saam met die Kerkraad se projekdag.  Dit is op klein skaal waar etes soos hamburgers, boereworsrolle, kerrie-en-rys, pannekoek en natuurlik basaarpoeding te koop aangebied word. 

  • Die groot kanon is ons Kosmark.  Daar word vermaak vir die kleinspan en volwassenes aangebied, vele kosstalletjies word opgerig en ‘n jolige atmosfeer word geskep vir jonk en oud.   

Ons kan regtig nie op ons louere rus nie.  Ons het verantwoordelikheid in die akker waar ons woon en werk.  Vele hande maak ligte werk.  Ons doen en werk in dankbaarheid, afhanklikheid en entoesiasties saam vir ons Vader, God en Heer.

Kontak

Vir enige navrae kontak gerus die kantoor

021 9482402

bottom of page