top of page

GESKIEDENIS

Oud Predikante

 

Eerste leraar van Bellville-Wes
 

Ds. Hercules Alexander (Santie) Sandenbergh (Murraysburg, 7 Julie 1910 - 26 Augustus 1983) was, behalwe vir drie jaar in Bellville, 38 jaar lank 'n predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk aan die Witwatersrand.

Hy kom uit Murraysburg se wêreld, maar matrikuleer op Prieska in die Noord-Kaap, waarna hy sy BA-graad in 1934 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en sy MA-graad in 1937. In 1938 lê hy sy proponentseksamen met welslae aan die Kweekskool af. Op Oujaarsdag daardie jaar kom hy in Johannesburg aan om hulpprediker van die NG gemeente Jeppestown te word. Hy word weldra as medeleraar beroep en op 29 April 1939 in sy amp bevestig. In September 1940 volg hy ds. J.M. Louw in die NG gemeente Boksburg op, wat nege maande vantevore oorlede is na 'n dienstyd van sowat 41 jaar in die Oos-Randse moedergemeente. Aan die begin van Maart 1947 word hy as medeleraar van die NG gemeente Bellville bevestig en na die afstigting van Bellville-Wes later dieselfde jaar, word hy op Skrikkeldag (29 Februarie) 1948 as leraar van die nuwe gemeente bevestig. In November 1950 keer hy na die Rand terug om predikant van Alberton te word en begin Februarie 1958 van NG gemeente Lambton, wat pas die vorige jaar vir die grootste gedeelte van Germiston-Suid afgestig is en waarheen hy twee keer beroep is.

Hy en sy tweede vrou, 'n dogter van ds. R.J.B. Feenstra wat lank in Benoni gestaan het, vestig hulle na sy aftrede op 29 Mei 1977 in Elarduspark, Pretoria, maar hy sterf skielik aan 'n hartaanval op Piet Retief waar hy na sy vrou se heengaan in 1982 by sy dogter gaan woon het. Sandenbergh het oor uitmuntende administratiewe vermoë beskik en goeie kennis van finansies beskik en dien dan ook 15 jaar in die Sinodale Kommissie en lank met onderskeiding in die Sinodale Kommissie vir Finansies en as voorsitter van sowel die Kerkkantoor- en Sinodale Begrotingskommissie. In die Ring van Germiston het hy feitlik sinoniem met die Finansiële Kommissie geword. Van die Ring van Boksburg was hy skriba en van dié ring, sowel as dié van Germiston, was hy geruime tyd voorsitter.

Vier kinders is uit sy tweede huwelik gebore, waarvan die jongste, ds. Kobus Sandenbergh, van 1981 leraar was van die NG gemeente Unitaspark, van 1984 van die NG Gemeente Constantiakruin en van 1987 van Weltevreden.

Geskiedenis

 

Inleiding

Sedert die twintigerjare het honderde Afrikaanse gesinne, meestal NG Kerk-lidmate, om ekonomiese en ander redes uit die platteland na Kaapstad en omstreke verhuis. Die toeloop na Bellville het eintlik eers teen die dertigerjare begin toe onder andere Boston en Vredelust "fenomenaal" begin groei het. Hierdie woonbuurtes waar indertyd min mense gewoon het, en wat beskrif is as "net wit sand, suikerbosse en portjacksonbome," het oor gedienste erwe beskik. Daarby was dit stil en rustig en ver van die woelige Kaapstad
 

Stigting van die gemeente Bellville-Wes

Teen 1945 kon die NG Kerk in De Langestraat, indertyd die enigste NG Kerk in Bellville, nie meer die groot aantal lidmate, nagenoeg 1500, akkommodeer en behoorlik bearbei nie. Twee jaar later was daar 2000 lidmate. Aanvanklik is 'n afgetrede leraar gevra om met die bediening te help en later is 'n hulpleraar ingespan. Maar in 1947 is 'n medeleraar, ds H A Sandenbergh, beroep en enkele maande daarna is in opdrag van die Ring van Parow besluit om die westelike deel van die gemeente (Boston) af te stig. Dit het gebeur nadat 250 lidmate van Boston en Vredelust 'n waarborglys van £850, 'n voorvereiste vir afstigting, onderteken het.


Die afstigtingsvergadering wat deur 100 lidmate bygewoon is, is op Maandag, 27 Oktober 1947, in die Bellville-kerk gehou. Die vereiste kerklike prosedure is afgehandel en die grense van die nuwe gemeente vasgestel. Die bruidskat, oftewel die afstigtingsgeskenk van die moederkerk. was agt persele tussen Sewende en Agste Laan, aangrensend aan Clevelandstraat, asook £2 850 trustgeld.
 

Die grenslyn

Die grenslyn van die nuwe gemeente het die Elsieskraalrivier vanaf die spoorlyn gevolg, verby die gevangenis in die Tygervallei tot aan die Dubanville-gemeente se suidgrens. Vandaar weswaarts tot by die Tierberg-gemeente (sic) se oosgrens en dan verder suid tot aan die spoorlyn, 'n area van nagenoeg 802 hektaar waar vandag vyf gemeentes van die N G Kerk gevestig is.

 

Die naam Bellville-Wes

Die naam Bellville-Wes is deur ouderling GPC de Kock voorgestel en later deur 'n ad hoc-komitee as amptelike naam aanvaar. Sommige lidmate het sterk gevoel vir die benaming Boston-Landgoed, maar dis nie aanvaar nie.

Aanvanklike organisasie

Aan die begin het die nuwe gemeente vyfwyke (twintig kerkraadslede) vir die 530 lidmate (252 gesinne) gehad. Hierdie mense het min of meer almal in die middelinkomstegroep geval, wat 'n salaris van tussen £25 en £50 per maand veronderstel het. Die interne organisasie van die gemeente sou deur ses kommissies behartig word waarvan die eiendoms-, sending- en finansiële kommissie die belangrikste was. Die eerste kerkraadslede is op 23 November 1947 voorgestel en die eerste leraar op 15 Desember beroep. Hy was natuurlik ds H A Sandenbergh, die moederkerk se medeleraar. Die eredienste en die Sondagskool is in die moederkerk gehou, maar later na die kerksaal verskuif totdat die jong gemeente se eie kerkgebou op die hoek van Sewende Laan en Clevelandstraat in Oktober 1949 voltooi is.

Geboue

Die Kerkgebou

Heel aan die begin kon die kerkraad nie besluit of daar 'n kerk of kerksaal gebou moes word nie, maar in 1948 is finaal op die kerk besluit. Die planne vir die gebou is deur die firma Louw en Louw opgestel en het voorsiening gemaak vir 'n galery en 525 sitplekke. Die kerk het tans 600 sitplekke, die galerye ingesluit. Die kerkraad het nie van die ingestuurde tenders gebruik gemaak nie, maar 'n bekwame boukontrakteur, C R B Mostert, aangestei en self die boumateriaal en die arbeid voorsien, as 't ware 'n eienaar-bouer-reëling. Die hoeksteen is op 5 Maart 1949 deur ds Sandenbergh gelê en die inwyding van die sierlike kerkgebou, in die tradisionele Suid-Afrikaanse boustyl, het op 15 Oktober 1949 plaasgevind. Die boukoste het net meer as £20 000 beloop, en het die prys van die banke en die kansel ingesluit, maar nie die van die orrel en horlosie nie. Danksy die groei van die gemeente en spesiale pogings is die kerkskuld in September 1957 gedelg. Die kerkgebou is oor die jare pragtig versorg, hoewel die instandhouding en restourasie, onder andere 'n nuwe dak, groot uitgawes meegebring het.
 

Die pastorie in 8ste Laan 12

Die pastorie in Agste Laan, beplan deur Louw en Louw, is deur die moederkerk laat bou vir sy medeleraar, ds Sandenbergh. Met die afstigting van Bellville-Wes in Oktober 1947 was die pastorie feitlik voltooi; gevolglik is Bellville-Wes gevra om die pastorie "oor te neem," tesame met die volle verband van £4 824. Die pastorie was sedert sy ingebruikneming nog altyd 'n waardige woning. Ongelukkig moes oor die jare groot bedrae bestee word aan instandhouding, uitbreidings, kewerbestryding en 'n nuwe dak in 1970.

 

​Die Kerksaal

As gevolg van die volgehoue groei van die gemeente - in 1956 was daar meer as 1 100 lidmate - het die behoefte aan 'n kerksaal "aktueel" geword. Twee jaar lank is gewik en geweeg en beplan voordat die firma Meiring en Naude opdrag gekry het om 'n "ruim en sierlike" saal te beplan. Na verdere vertragings is bouheer Julius Cohen se tender vir £32 000 aanvaar. Die hoeksteen is op 13 Junie 1959 deur ds P J Raubenheimer gelê en die inwyding kon drie maande later op 18 September plaasvind. Reeds voor die inwyding was daar groot onmin oor 'n "strukturele afwyking" wat daarop neergekom het dat die saalfondament nie uitgebou is nie en dus iaer us die straatvlak was. Tot oormaat van ramp het die unieke dakkonstruksie en die plasing van die geute veroorsaak dat die saal feitlik uit die staanspoor gelek het, ‘n probleem wat af en aan vir meer as dertig jaar opgeduik het. Ondanks die dak- en ander probleme wat uitgestryk moes word, is dit nogtans ‘n doelmatige saal wat goed benut word, ook deur buitekerklike instansies. Die gemeente se kerkkantoor, argief en Bo-vertrek word ook in die saalgebou gehuisves. Die skuld op die saal kon in September 1974 gedelg word.

Die tweede pastorie in 7de Laan 39

Na die afstigting van die gemeente Boston in 1962 bet die gemeente steeds bestendig gegroei sodat ‘n medeleraar beroep moes word. ‘n Tweede pastorie het dus noodsaaklik geword. Teen die verwagting in is die woning op die hoek van Lincolnstraat en Negende Laan teen ‘n bedrag van R13 500 aangekoop. Dié transaksie het groot ontevredenheid veroorsaak omdat die huis nie aan die behoeftes van ‘n pastorie voldoen het nie. Ondanks groot uitgawes het dit “ontoereikend” gebly sodat dit in 1981 verkoop is, nadat die huidige pastorie, Sewende Laan 39, teen die billike prys van R88 000 aangekoop is.

 

Die Kerkorrel

Die kerkorrel, 'n Walker-instrument (twee manuaal), is by die firma R Muller aangekoop en in Oktober 1950, 'n jaar na die inwyding van die kerk, geinstalleer en ingewy. Die orrel het £2 500 gekos en was 'n geskenk van die vroue van die gemeente. Die orrelbegeleiding en die sensitiewe leiding van die gemeentesang het oor die jare 'n reuse-bydrae gelewer tot die waardigheid en ondersteuning van die liturgie. In die beginjare was die gemeente gelukkig om oor die dienste van groot orreliste en koormeesters soos Dirkie de Villiers en Pieter van der Westhuizen te beskik. In der waarheid was, volgens die mening van etlike gemeentelede, al die gemeente-orreliste begaafde kunstenaars wat die gemeentesang tot groot hoogtes kon voer. Met groot waardering kan melding gemaak word van Lourens Strydom, Elsabe Roos, Annatjie Brand (sy was 23 jaar lank orreliste van die gemeente) en dr M de Vries, die huidige orreliste. Ongelukkig moes oor die jare groot bedrae bestee word aan die uitbreidings, instandhouding en restourasie van die orrel. Die jongste versiening en opknapping het byvoorbeeld R22 000 gekos.

NG-Bellville-Wes-Pyporrel-1.jpg
NG-Bellville-Wes-Pyporrel-2.jpg

Die Kerkhorlosie

Die kerktoringhorlosie, 'n Britse fabrikaat, 'n David Brown, is by 'n Johannesburgse firma S A Horlosie-Fabrikante aangekoop. Die totale koste vir die horlosie en die installering het £625 beloop. Die vier wysterplaatuurwerk wat elektries en meganies aangedrewe is, was 'n waardige toevoeging tot die kerkgebou, maar hoewel dit 'n 25-jaar waarborg gehad het, het dit chronies probleme ontwikkel as gevolg van 'n foutiewe installering, lekkasies, swak instandhouding en slytasie. In 'n stadium toe die kerkraad weer raadop was, met nog 'n groot hersteluitgawe (± R3 000) het kundige ouderlinge (Bestbier, Victor en Avenant) in die nou toring opgeklim en die nodige restourasie en verstellings gedoen sodat die klok na jare nog steeds in goeie werkende toestand is. In 'n stadium het die horlosie sy slag verloor omdat die betrokke onderdeel onvervangbaar was. Periodieke versiening van die gesofistikeerde uurwerk moet uiteraard nog gereeld gedoen word.

bottom of page